Ek lewe nog! En ek het weer ‘n ou skootrekenaartjie… Maar
laat ek myself nou nie vooruit hardloop nie.
Ek was vir so paar weke op vakansie en ek moet erken, tot en met die laaste week, was ongelooflik.
Ek het soveel waaroor ek wil skryf en belowe om binnekort meer van my en my
sussie se roadtrip Kaap toe en die ski in Lesotho te skryf. Vandag gaan ek
egter net fokus op die laaste drie weke…
Na twee weke se vakansie saam die familie was dit tyd om
bietjie met die vriendinne op te vang die laaste week – of dit was die plan.
Die Vrydagaand is ek saam ‘n vriendin uit, maar sy het my net na 10uur gaan
aflaai sodat ek nog pynpille kon drink (jip, ek kan toe nie so goed snowboard soos ek
aanvanklik gedink het nie). Die Saterdagoggend lekker laat gelê en toe is dit Kempton Park toe om met my beste vriendin op
hoërskool op te vang en die rugby saam ‘n ander vriendin te kyk. Die Blou Bulle
het verloor en ek moes dit tien teen een as ‘n teken vat van slegte dinge om te
kom…
Toe ek die Sondagmiddag weer by my plekkie instrompel sien ek die kassie in my studeerkamer is skeef… OCD. Ek sien eers die skewe kassie voor ek sien my laptop is nie meer
daar nie…
Ek hardloop sitkamer toe en sien my Ipad lê darem steeds op
die bank waar ek die Vrydagaand in ‘n pynpil waas gesit en Tweets lees
het.
Fokus Nini! Ek begin in my kamer en kyk op die vensters toe
is en bel solank my Pa.
“Pa, ek dink iemand het ingebreek. My laptop is weg. Ek sien
nie ‘n oop venster nie. Dit lyk soos net my laptop, my Ipad lê nog op die
bank.”
Soos ek stap om die Ipad op te tel raak ek yskoud toe ek die
leë cover optel.
“Ag @#$! My Ipad is ook weg. Net die kassie is oor… Ek sien
nogsteeds nie… Hier is ‘n flippen oop venster! Pa, ek is doodseker die vensters
was toe…”
Toe begin die trane loop.
“Pa, asseblief kan
julle deurkom? Okay, sien julle nou. Mooi ry.”
‘n Halfuur later was my ouers by my. Intussen kon ek toe al
sien dat my kamera sak uit my kas gehaal was en my kamera en video kamera ook
gesteel is. My onderwaterkamera is ook uit ‘n sakkie gehaal en weg. My ‘wasgoed
geldjies’ is uit die kosblik uit gehaal. My flashdrive (met backups) is weg.
Ek tel my Bybels – almal daar. My kitare hang nog teen die
muur. My TV is nog daar, my DVD speler, my Hi-Fi, my Iburst modem…
My Pa identifiseer sommer binne die eerste twee minute die
verlepte plantjies, die merke op die venster, die verf wat op die vensterbank
lê en ry saam polisiekantoor toe. Apparently kom hulle deesdae direk uit
na jou plek toe.
Ek het iets ongelooflik beleef met die polisie. Twee
polisiemanne daag op, praat met mekaar in hulle eie taal, mompel onderlangs toe
ek verduidelik wat ek kon agterkom is gesteel. Toe ek egter moes verduidelik
dat my occupation ‘n voltydse student is en ek swot om dominee te word,
of soos hulle dit noem 'Muruti' toe verander hulle hele houding. ‘Oh,
woman of God. We love you, we love God. Why you stay here by yourself? This is
dangerous area. This is second capital of Nigeria this complex…”
Die versekering het die volgende dag bevestig dat
Moreletapark die hoogste inbraaksyfer in Pretoria
het. Die detectives het gesê my straat word 24 uur ‘n dag gemonitor
omdat daar soveel drug dealers in die area woon. Die vinger afdruk dude
het gesê ek moet Constantia Park of Brooklyn toe trek - daar waar die ander "white people" woon. Goeie genade. Waar bly ek?!
Jinne, toe slaap ek mos lekker. Mos. Nadat ek soos ‘n malmens vir 15 minute lank met my skokstok (‘n tazer/flits wat my Pa vir my gegee het)
in die tuin geloop en Tzz, tzz, tzzzzz het en met my kettie en pepperspray
paintball balletjies langs my bed het ek in elk geval nie ‘n oog toegemaak
nie.
Die Dinsdag middag is ek terug Kempton toe met ‘n kar vol
kitare en elektroniese goed.
Dis nou twee weke later en ek het uiteindelik weer ‘n ou laptoppie.
My Ipad is vervang, ek kan
weer kiekies neem, ek het ‘n nuwe horlosie en kontant om die kleiner dingetjies
te vervang. Dankie tog vir versekering. My eis was R29 400. Bliksems!
Die ergste vir my is egter die verlies aan dinge wat jy nie
sal terugkry nie. Die hoofstukke van my memoir waaraan ek gewerk het,
die teks van die stuk wat ek einde September wou opvoer… Moenie bekommerd wees
nie, ek het onmiddellik die hoof tonele neer gepen en dit wat ek reeds
gememoriseer het neer gegriffel. Die stuk sal voortgaan Januarie.
Dis hier waar ek ‘n ou kerêltjie sou waardeer. Iemand om my
in sy arms te vat en te sê dis okay, iemand wat kon troos en wat kon luister…
Maar nou ja, wat kan
‘n single girl nou doen?
Ek het maar laasweek my bevoegdheidsertifikate vir ‘n
pistool, jaggeweer en ‘n haelgeweer gaan aflê. Probeer nou weer inbreek!!! Hehe,
die Oom sê ek is ‘n natural en skiet baie beter as van die mans. Ek
gee binne die volgende week my aansoeke by die polisiestasie in. Boom!
Ek het darem nou ‘n alarmstelsel (wat semi-betroubaar is)
laat installeer, as dinge goed gaan sal ek oor so 3 maande my
vuurwapenlisensies hê, Ouma se pistool erf en ek gaan definitief Januarie trek.
Tot tyd en wyl staan my kitare en elektroniese goed by die ouers en my skokstok
staan langs my bed.
Ek sal moet opmaak met die geskryf – hier en vir my ekstra
inkomste. Boonop is ek twee weke ‘agter’ met my universiteit werk wat getik en
afgelaai moet word.
Ek wou net laat
weet dat ek steeds lewe. Kom ons hoop dinge gaan beter. Veral met die Bulle wat hierdie naweek met die Currie Cup begin.
No comments:
Post a Comment