To my English readers: This post is in my home language Afrikaans. It’s about a strange dating type show where girls essentially enter to meet a farmer. Culturally, this may sound weird and I’m sure if you try and put this post through Google Translate it will sound even weirder. Don’t bother. I’ll write the next post in English again as my next date has been introduced and we plan to meet up this week.
Afrikaans pappa! Hierdie inskrywing kan slegs in my ou hartstaal geskryf word en dit voel skoon vreemd om nie in die ‘taal van die vyand’ te dink nie.
Ek is seker daarvan julle het al van KykNet se program Boer soek ’n Vrou gehoor. Verlede jaar sou ek ingeskryf het omdat ek ’n weddenskap met ’n vriendin verloor het, maar kort voor die inskrywings gesluit het is daar darem vir my gesê dat ek nie meer hoef in te skryf nie. Ek was ongelooflik verlig want ek het nog nooit regtig die program gekyk nie.
Ek het so paar episodes laasjaar gevang, maar nie regtig veel opgelet nie. En toe is dit 2013, en ek is steeds alleenlopend en toe herinner my liewe vriendin my dat ek miskien hierdie jaar moet inskryf.
Hier is hoe die program werk: 10 boere oor die land word gekies en aan die land voorgestel. Daarna kry meisies die geleentheid om vir hierdie 10 liefdesbriewe te skryf waarna dit aan die boere voorgehou word. 5 boere word hier geelimineer omrede net die 5 boere wat die meeste briewe ontvang het aanbeweeg. Die boere lees dan hulle liefdesbriewe en kies dan ’n sekere aantal meisies om te ontmoet. Ek dink hierdie is 10 meisies – ek sê mos ek het nie regtig opgelet in die klas verlede jaar nie. Mos.
Na ’n kort onderhoud/gesprek met die boer kies hy dan 4 meisies om saam met hom plaas toe te gaan en dan stuur hy een vir een huistoe totdat hy nou met sy ideale plaasvroutjie opeindig. Pragtig.
Snaaks genoeg wil ek hierdie jaar inskryf en dis presies wat ek gaan doen. Ja, ek weet wat die meeste mense se reaksie is. ‘Neeeeee, Jeanine! Dis nou desperaat. Jy weet dis ’n klug en die hele land gaan dit sien’. Ja, ek weet dit. Maar regtig? Ek verstaan nie dat mense gereeld gaan draf en hul eetgewoontes kan aanpas om hulle nuwejaarsvoornemens te hou nie, maar as dit by ‘dating’ kom dan sit hulle net agteroor en wag vir iets om te gebeur. Julle ken die ou sêding: jy kan nie die lotto wen as jy nie ’n kaartjie koop nie.